Die politieke wiskunde van Stellenbosch: 23 is die getal wat alles kan verander.
Stellenbosch het lank die reputasie geniet van ’n kalm blou strandmeer in Suid-Afrika se andersins onstuimige see van munisipale politiek. Terwyl Johannesburg, Tshwane en ’n kleurvolle versameling ander munisipaliteite plaaslike regering in laatnag-realiteitstelevisie verander het — met mosies van wantroue, nuwe koalisies en politici wat skielik om 02:00 hul diepste beginsels herontdek — het Stellenbosch merkwaardig voorspelbaar gebly.
Die wiskunde agter daardie rustigheid is eenvoudig:
23.
In ’n raad van 45 lede gee 23 setels aan een party ’n volstrekte meerderheid.
Die Demokratiese Alliansie het in 2021 28 setels gewen. Ná die verlies van Wyk 15 aan die Patriotic Alliance het dié getal tot 27 gedaal.
Sedertdien het nóg twee DA-raadslede bedank.
Dit beteken dat die DA, ten tyde van publikasie, op 25 setels in die Raad staan — net twee setels bo die 23-setel-meerderheidsgrens, en slegs drie verdere setelverliese weg daarvan om tot 22 te daal en sy volstrekte meerderheid prys te gee.
En dit alles skaars agt weke voor die verkiesing.
Skielik lyk 23 glad nie meer so ver weg nie.
Vir die eerste keer in jare bestaan daar ’n geloofwaardige moontlikheid dat geen enkele party ná die verkiesing ’n meerderheid in Stellenbosch sal hê nie.
En die druk kom uit twee baie verskillende rigtings.
Aan die een kant het die Patriotic Alliance reeds bewys dat tradisionele DA-steun in werkersklasgemeenskappe nie onaantasbaar is nie. Cloetesville was die waarskuwingskoot. Soortgelyke druk kan in Franschhoek, Pniel, Lanquedoc, Idasvallei, Kylemore, Klapmuts, Jamestown en Raithby gevind word.
Inwoners moet hulle dus voorberei op meer politici, meer plakkate en moontlik ’n skielike munisipale passie vir infrastruktuurverbeterings wat nog nie gesien is sedert Nokia se gloriedae nie.
Maar die tweede bedreiging is stiller — en moontlik net so belangrik.
Aan die ander kant staan die Vryheidsfront Plus.
Hier gaan dit nie noodwendig oor die hardste stem op Facebook, die kwaadste WhatsApp-groep of die week se jongste politieke histerie nie. Daar is tekens van ’n stiller, dieper ontevredenheid onder dele van Stellenbosch se belastingbetalers, professionele mense, boere en sakegemeenskap.
Baie van hierdie kiesers waardeer goeie administrasie, finansiële dissipline en stabiliteit. Dit is presies waarom hulle tradisioneel die Demokratiese Alliansie ondersteun het.
Maar ’n ongemaklike vraag word al hoe meer gevra:
Wie regeer eintlik vir wie?
Daar bestaan ’n persepsie dat verkose politici toenemend verwag word om gedwee terug te staan teenoor ’n sterk, uitgesproke munisipale administrasie.
Amptenare behoort te administreer. Politici word verkies om beleid en politieke prioriteite te bepaal.
Kritici meen dié verhouding lyk soms omgekeer: verkose verteenwoordigers sit beleefd in hul stoele en knik, terwyl iemand anders besluit waarheen die motor ry.
Vir die Vryheidsfront Plus skep dit ’n interessante opening onder kiesers wat nie na ’n politieke rewolusie soek nie.
Hulle wil eenvoudig hê dat die mense wat hulle as hul stem verkies het, hulle moet verteenwoordig.
Dink aan Technopark, Paradyskloof, Die Boord, Onder Papegaaiberg, Uniepark, Krigeville, Mostertsdrift, Stellenbosch-Sentraal, omliggende landbougebiede en dele van die Franschhoekvallei.
Dit is dikwels kiesers wat hul munisipale rekeninge betaal, oor aandete kla en die volgende oggend eenvoudig weer werk toe gaan.
Hulle betoog nie noodwendig nie.
Hulle plaas nie noodwendig politieke verklarings op Facebook nie.
Hulle skuif net die kruisie.
En daar raak die wiskunde interessant.
Breedweg gesproke kan ’n erosie van ongeveer 200 DA-kiesers per wyk regoor Stellenbosch — of die verlies van slegs drie strategies belangrike wyke — ’n dramatiese verandering in die politieke balans veroorsaak.
Dit is nie meer ’n abstrakte scenario nie.
Die DA het reeds van 28 setels ná die 2021-verkiesing tot 25 setels ten tyde van publikasie teruggesak.
Sy veiligheidsmarge is nou aansienlik kleiner as wat dit vyf jaar gelede was.
Drie-en-twintig setels en een party regeer alleen.
Twee-en-twintig setels en skielik ontdek almal mekaar se selfoonnommers.
En juis hierin lê die werklike betekenis van die 23-setelgrens: dit is nie bloot ’n verkiesingsgetal nie, maar ’n skeidslyn tussen twee heeltemal verskillende regeringsvorme.
Indien ’n enkele party 23 of meer setels behaal, bly Stellenbosch se huidige model van sentrale uitvoerende beheer grootliks in plek — vinnige besluitneming, voorspelbare begrotings en een duidelike politieke sentrum van verantwoordelikheid.
Maar as die uitslag selfs net ’n bietjie onder die lyn val, verander die spel oornag.
Mag word nie meer besit nie.
Dit moet onderhandel word.
’n Hangende raad beteken dat begrotings, tariewe, infrastruktuurprojekte en groot beleidsbesluite steun van meer as een politieke groepering sal verg.
Die era van die outomatiese meerderheid word vervang deur die era van kompromie.
Dit kan stadiger wees.
Daar kan dooiepunte wees.
Daar kan selfs vergaderings wees waar mense werklik van mekaar verskil.
Demokrasie kan verskriklik ongerieflik wees.
Maar daar is ook ’n ander kant.
Sonder ’n outomatiese politieke meerderheid sal munisipale amptenare wat belangrike beleids- en finansiële voorstelle voorlê, verskillende politieke groeperings van die meriete daarvan moet oortuig, eerder as om op ’n voorspelbare enkelpartymeerderheid staat te maak.
Dit kan meer ondersoek, meer deursigtigheid en meer politieke aanspreeklikheid beteken.
Klein partye word skielik groot spelers. Een of twee setels kan die verskil beteken tussen ’n begroting wat aanvaar word en een wat terug kombuis toe gestuur word.
Die groot vraag van hierdie verkiesing is dus nie bloot of die Patriotic Alliance meer wyke gaan wen, of die Vryheidsfront Plus groei, of die Demokratiese Alliansie die grootste party sal bly nie.
Die vraag is of enige party in Stellenbosch die 23-setelmerk gaan haal.
Vir jare was die vraag:
Hoe groot gaan die DA se meerderheid wees?
Hierdie keer kan die vraag heel anders wees:
Gaan daar enigsins ’n meerderheid wees?
Met die DA wat ten tyde van publikasie op 25 setels staan — af van 28 in 2021 — is die party nou net twee setels bo die kritieke 23-setelgrens. Slegs drie verdere setelverliese sou die DA tot 22 neem en Stellenbosch in ’n heeltemal nuwe politieke era plaas.
En dit alles met slegs agt weke voor die verkiesing.
Iewers in Pleinstraat behoort iemand reeds baie hard op ’n sakrekenaar te werk.







