Home Lifestyle Dra Jou Sonbril op 17 Oktober!

Dra Jou Sonbril op 17 Oktober!

303

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gidshonde nooi die publiek uit om die derde jaarlikse Dra Jou Sonbril-dag landswyd te vier op Vrydag, 17 Oktober 2025.

Hierdie inisiatief vier Wêreldsigmaand deur bewustheid te skep oor die belangrikheid van ooggesondheid en om noodsaaklike ondersteuning te genereer vir individue met visuele gestremdhede. Deur ‘n plakker teen R20 aan te koop en jou gunsteling sonbril te dra, help jy om ‘n meer inklusiewe samelewing te skep waar almal, ongeag hul vermoë, vryheid en onafhanklikheid kan ervaar.

“Ons missie is om jaarliks die lewens van ongeveer 800 individue te transformeer deur die verskaffing van Assistenthonde en langstok-opleiding,” sê Pieter van Niekerk, woordvoerder van die SA Vereniging vir Gidshonde. Van Niekerk is self visueel gestremd en ‘n trotse eienaar van ‘n gidshond.

Hoe om Betrokke te Raak

Koop jou R20-plakker by enige van die volgende winkels of platforms:

  • Aanlyn: Koop jou digitale plakker via die SA Gidshonde-webwerf by www.guidedog.org.za
  • Per Telefoon: Kontak die Johannesburg- of Kaapstad-kantore om plakkers te bestel. Jy kan dit persoonlik afhaal of laat aflewer.
  • In Winkels: Plakkers is beskikbaar by deelnemende kleinhandelaars, insluitend Pick n Pay (geselekteerde winkels), Spar (geselekteerde winkels), Falco Milano, Big Blue, Pet World, en BUCO Hardware.
  • Dra Jou Sonbril: Op 17 Oktober, sit jou coolste sonbril op, en dra jou plakker om jou ondersteuning te wys en bewustheid te skep oor visuele gestremdheid en ooggesondheid.

Wêreldwyd ervaar minstens 2.2 miljard mense sigprobleme. In minstens 1 miljard gevalle kon dit voorkom gewees het deur gereelde oogversorging en die dra van sonbrille om teen skadelike UV-strale te beskerm.

Fondse wat ingesamel word met Dra Jou Sonbril-dag ondersteun direk die Vereniging se programme — insluitend die teling, grootmaak en opleiding van Assistenthonde vir visueel gestremde persone, mense met fisiese gestremdhede, en kinders op die outismespektrum, asook die verskaffing van noodsaaklike oriëntering- en mobiliteitsdienste.

Die Vereniging spreek ‘n opregte dank uit aan DSV vir die borg van vanjaar se verspreiding van veldtogmateriaal. ‘n Groot dankie ook aan al die kleinhandelaars wat saam met ons aan hierdie betekenisvolle veldtog deelneem!

Op Dra Jou Sonbril-dag word deelnemers aangemoedig om @sa_guide_dogs op sosiale media te “tag” terwyl hulle hul sonbrille en plakker dra, en die hutsmerk #shadesday te gebruik vir ‘n kans om opwindende pryse te wen.

www.guidedog.org.za of e-pos info@guidedog.org.za

Teks: Redaksie | Foto’s: Verskaf