Hoekom die spesiale uitgawe, wat 55 jaar van Hilux vier, só besonders is
Is ek die enigste een wat elke keer hardop lag wanneer ek lees of hoor hoe een of ander splinternuwe bakkiehandelsnaam — waarvan niemand al ooit gehoor het nie — nou glo die Hilux en sy gevestigde mark gaan kom ore aansit? Regtig nou? Toyota se gevestigde mededingers wéét hoekom mens dit nie probeer nie. Dis ’n resep vir eier op die gesig. Klomp eier.
Hoe dit ook al sy, van al die nuwe bakkieloodsings van onlangs — en daar was baie — waarvan meeste name klink soos óf ’n waspoeier, óf ’n seuns orkes, is dít die enigste een wat werklik tel. Die Toyota Hilux Legend 55 is dalk lank in die tand, ja. Maar dit bly Suid-Afrika se gunsteling bakkie. Klaar. Schluss.
Maand in, maand uit, jaar na jaar, dekade na dekade, bly die getroue Hilux onoorwonne. In September het hulle wéér 3 639 Hilux-bakkies verkoop. Dis méér as wat al die Chinese handelsmerke saam — met al hulle kentekens — verkoop het. Toyota, terloops, het amper vyftien duisend voertuie in Suid-Afrika verlede maand verkoop. Onthou dit volgende keer wanneer jy weer lees hoe een of ander onbekende die koning wil uitdaag.
55 vier ’n belangrike Toyota-legende
En toe kom die Legend 55. Eenvoudig gestel: hierdie bakkie vier 55 jaar van Toyota Hilux-verkope in Suid-Afrika. Dít op sigself verduidelik reeds hoekom mens nie te veel hoef te stres oor Johnny-Chen-Daarsy-Doer nie.
Die eerste, beskeie Toyota Hilux is in 1969 bekendgestel. In 2004 het Toyota die Legend 35 uitgebring om 35 jaar te vier — teen baie aanvanklik siniese verwagtinge, het dit ongelooflik goed verkoop. Die Legend 40 vyf jaar later was ’n weghol sukses. Net so die Legend 45 in 2014, en die Legend 50 in 2019. Elke uitgawe het die Hilux-storie verder gedra, en sy geharde reputasie beklemtoon met bykomende toerusting wat perfek pas by die behoeftes van Suid-Afrikaanse bestuurders van die tyd.
Daarna het die gewone Legend as die topmodel diens gedoen, maar nou — 55 jaar later — raai jy reg: hier’s die splinternuwe Toyota Hilux Legend 55. Hierdie nuutste spesiale uitgawe vervang die vorige Legend en sal tot 2026 beskikbaar wees. Lees daarin wat jy wil! Hy is beskikbaar in Xtra- of Dubbelkajuit, en kry ’n paar nuutste Legend-ontwerp- en geriefverbeterings. Dit is die topvlak 2.8 GD-6 4×4 Dubbelkajuit outo.
55 voeg robuuste én verfynde lekkernye by
By die reeds bewese, en uiters gewilde Hilux Legend, voeg die 55 dit wat Toyota “robuuste en verfynde afwerkings” noem. Dit sluit in eksklusiewe embleme, chroom-stamp- en skopplate, logo-“puddle lights” en ’n haai-vin antenna. Dis ’n beperkte uitgawe, sê hulle — maar sonder om ooit daardie praktiese, bloubaard, geharde Hilux geaartheid in te boet.
Klim in, en jy kry fantastiese sportsitplekke met geborduurde kopstutte, en swaardiens-rubbermatte. Die gewone 8-duim raakskerm met CarPlay en Android Auto word verder opgegradeer met ’n 9-luidspreker JBL-premium klank stelsel. Dan is daar die laaibak, want dít is immers ‘n bakkie. Die Legend 55 kry ’n rubberbedekte laaibak onder ’n veilige sluitbare rolluik, ’n handelsmerk stylstaaf, ’n verwyderbare sleepstang, en selfs ’n dakversiering.
Onder die kap sit Toyota se vertroude 2.8-liter GD-6 turbodiesel, eerder as die hoë-uitset GR-variant. Die bekende 150 kW en 500 Nm word gekoppel aan die verfynde sesgang outomatiese ratkas. Toyota bied die Legend 55 in tien kleure aan, insluitend Dark Green Mica Metallic en gehoorapparaat-beige. Ons toetsmodel was wit — so daar’s genoeg keuse.
Jy weet presies wat jy van ’n Hilux kry
Daar is nie veel nuuts om oor huis toe te skryf omtrent die bestuur van die steeds benydingswaardige Hilux nie. Klim in, en dit voel onmiddellik …bekend. Die premium geperforeerde leerbekleedsel, swartblou afwerking, en spesiale panele onder die swart dakvoering met koel blou sfeerbeligting, laat dit regtig spesiaal voel.
Druk die knoppie, en die gesonde 150 kW/500 Nm GD-6 grom op in sy bekende toon — stil en stewig. Dit is nie die GR nie, maar hierdie basiese enjin is ’n paar jaar terug met 30 kW en 80 Nm opgegradeer. Te lekker. Die groter turbo en verbeterde diesel inspuiting werk perfek saam met die Hilux se aangepaste ratverhoudings – om steeds ’n ontspanne, maklike, luukse rit te verseker.
Die Hilux se rygerief, padgedrag en hantering was nog altyd uitstekend — niks nuut daar nie. Deurlopende ontwikkeling hou die onderstel verbasend goed in vorm. Die stuurgevoel is positief, vinnig en bied net die regte terugvoer, en die remme — dikwels verbeter oor hierdie model se leeftyd — is skerper en baie effektief.
Eenvoudige infotainment werk uitstekend
Die Legend 55 se 8-duim-infotainment is aan die klein kant, maar sy eenvoud maak dit beter as baie van sy komplekse mededingers. Knoppies en draaiknoppe hanteer die belangrikste funksies, terwyl die raakskerm die res doen — soos dit hóórt. Dit het CarPlay, Android Auto, Bluetooth, USB, en Google Maps. Maar ons mis steeds draadlose laai. Komaan, Toyota!
Die radio het selfs nog ou AM. Bravo! Alles kan via die multifunksiestuurwiel beheer word, en speel deur die uitstekende JBL 9-luidsprekerstelsel — met daardie Frisbee-agtige boonste luidsprekers vir ekstra flair. Die meters is helder en maklik leesbaar, maar die stuurwiel — al is dit kantelbaar — kort steeds ’n ordentlike teleskopiese verstelmeganisme.
Een Koning. Punt.
So ja — daar’s heelwat redes om te lag elke keer as jy ’n PR-praatjie hoor oor hoe die volgende onbekende bakkie die Hilux ‘n “les gaan leer”. In 50 jaar het ons hulle álmal sien kom. En gaan. Maar daar’s steeds net een Koning van die Bakkies — en hier staan hy. Die Hilux bly bo-aan die verkoopsyfers, maand in, maand uit.
Hoe meer onbekende, ongetoetste Chinese en ander bakkies die mark oorlaai, hoe méér Hilux verkoop Toyota! Want Toyota het na al die jare steeds die resep perfek onder die knie.
Dit was van dag één af so. Dit is dalk nie die nuutste of mees gevorderde bakkie daar buite nie — maar daardie onvergelykbare fondament van Kwaliteit, Duursaamheid en Betroubaarheid hou die Hilux steeds nommer een. Dis die wenresep. Nou net met ’n tikkie Legend 55-spesery.
Teks: Michele Lupini
Foto’s & toetsing: Giordano Lupini
PADTOETS: Toyota Hilux Legend 55 2.8 GD-6 4×4 DC AT
Enjin: 150 kW / 500 Nm 2.8-liter turbodiesel I4
Aandrywing: 6-gang outomaties, 4×4
Laaivermoë: 750 kg
Sleepvermoë: 3 500 kg
Padtoets-resultate:
0–60 km/h: 4.23 s
0–100 km/h: 9.97 s
0–120 km/h: 13.87 s
0–160 km/h: 24.34 s
400 m: 16.9 s @ 132 km/h
80–120 km/h: 7.17 s
120–160 km/h: 12.31 s
Fabrieks syfers:
Topspoed: 175 km/h
Brandstof: 7.9 l/100 km
CO₂: 298 g/km
Reikwydte: 1 000 km
Waarborg/diens: 3 jaar/100 000 km / 9 dienste tot 90 000 km
Prys: R935 000







