Home News ARC van Franschhoek

ARC van Franschhoek

’n Lewende laboratorium vir regenerasie

351
ARC of Franschhoek

In ’n era van kitsbevrediging, ongebreidelde verbruikerskultuur en ’n groeiende ontkoppeling van die natuur, kyk ’n baanbrekersinisiatief verby die volgende digitale gier of móét-hê-foefie om mense en natuur weer met mekaar te verbind. Hierdie transformerende projek neem vorm aan in ’n voorheen verwaarloosde, maar ekologies sensitiewe gebied ’n paar kilometer buite Franschhoek. Ontwikkel rondom die pilare van Argitektuur, Regenerasie en Gemeenskap, staan dit bekend as die ‘ARC of Franschhoek’ (Architecture. Regeneration. Community).

Publiek-Private Vennootskap

Nadat die Bergrivierdam in 2008 voltooi is, is die omliggende sensitiewe natuurgebiede grotendeels onbestuur gelaat. Alhoewel die Departement van Water en Sanitasie (DWS) ’n Hulpbronbestuursplan (HBP) vir die dam en omliggende natuurgebied ontwikkel het om te verseker dat ontspanning, toerisme en bewaring op ’n volhoubare en billike wyse bestuur word, het dit die hulpbronne ontbreek om die plan te implementeer.

In 2025 het Hard Adventures (Edms.) Bpk. ’n historiese huurkontrak oor die Bergrivierdamgebied bekom – die hoogtepunt van jare se onderhandeling, beplanning en samewerking tussen talle openbare en private sektor instansies. Reghard Goussard, stigter van Hard Adventures, beskryf dit as “’n dapper stap in die rigting van volhoubare toerisme, werkskepping en ekologiese bewaring … Deur hierdie vennootskap word openbare grond heraktiveer om inklusiewe groei, jeugopleiding en volhoubare toerisme aan te dryf, en sodoende ’n nuwe maatstaf vir bewaringsgedrewe ontwikkeling in Suid-Afrika te stel.”

Filosofie

ARC of Franschhoek herbedink wat dit beteken om in harmonie met die natuur te skep. Vir hulle is “elke struktuur ’n uitnodiging om oor tyd, verganklikheid en ons plek binne die ekosisteem na te dink.”

Deur met materiale uit die landskap te werk – klip, klei en hout – ontwerp ARC van Franschhoek ruimtes wat eendag weer na die aarde sal terugkeer. “Ons ontwerp nie om vir ewig te hou nie; ons ontwerp om te behoort.”

Die argitektuur is gegrond op ’n “toekomstige ruïne”-filosofie, wat verseker dat elke ontwerp ’n positiewe voetspoor laat, selfs ná dit in onbruik verval. Geboue word toekomstige ruïnes wat geleidelik terug gaan in die landskap waaruit hulle gebore is.

Biofiliese ontwerpe sluit panoramiese uitsigte, sensoriese roetes, natuurlike materiale en fynbosintegrasie in, en reageer op natuurlike elemente soos helling, wind, water, vuur en plantegroei.

Meesterplan: Die ARC vorentoe

Die projek se meesterplan voorsien ’n reeks aktiwiteite “wat ekologiese bewaring met avontuur en ontspanning balanseer.”

’n Verwaarloosde lodge en aangrensende wonings sal herbenut word as die ARC se spilpunt, met ’n administratiewe kantoor, besprekingslessenaar, koffiewinkel en ’n ervaringsgerigte restaurant wat plaaslike kookkuns en kultuur uitstal. Naby sal ’n toekomstige ‘wedrendorpie’ fasiliteite bied soos kanoverhurings, fietsverhurings en -herstelwerk, asook verwante kleinhandel.

Bestaande stap- en fietsroetes (soos die skouspelagtige Dam 360) word opgegradeer en nuwe roetes word geskep vir stappers en fietsryers van alle ouderdomme en vermoëns. ’n Aantreklike moontlikheid is die herinstelling van die roete tussen die Jonkershoek- en Assegaaibosch-valleie.

Die dam se wateroppervlak sal ontwikkel word as ’n spilpunt vir nie-gemeganiseerde watersporte soos swem, kanovaart en roei, terwyl ’n vang-en-vrylaat-forelplaas vir die boonste dele van die dam beplan word.

’n Uitkykdek op die damwal sal panoramiese uitsigte op en af in die vallei bied, terwyl ’n beperkte aantal besoekers oornag sal kan bly in eko-sensitiewe kapsules met uitsigte oor die water.

Beplanning is aan die gang om hoëprofiel kompetisies, avontuur- en kulturele geleenthede aan te bied, wat die gebied as ’n wêreldwye bestemming vir avontuurtoerisme sal posisioneer. Die ARC Ultra – ’n vlagskip-multisport-uithougeleentheid – is ’n besonder aanloklike vooruitsig vir buitelug-avontuurliefhebbers.

Namate die meesterplan ontwikkel, sal ARC van Franschhoek verder uitbrei as roetes, toerisme en argitektuur om residensiële navorsingsprogramme, ekologiese opleidingsprogramme en ’n lewende laboratorium vir biodiversiteit en ontwerpinnovasie aan te bied.

Die unieke landbou- en bosbougeskiedenis van die bo-Bergriviervallei en Assegaaibosvallei sal bewaar en geïntegreer word in die ontwikkeling, sê Jean-Marie de Buck, nog ’n direkteur van Hard Adventures. “Ons doel is om die Berg­rivierdam as ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron te beskerm, terwyl ons sy potensiaal ontsluit as ’n ruimte vir ontspanning en kulturele viering.”

Gemeenskap Eerste

Stigter Goussard beklemtoon verskeie elemente van hul gemeenskapsgerigte ontwikkelingsbenadering, insluitend:

  • Werksgeleenthede: Poste sal wissel van gasvryheid en sekuriteit tot roetebou en -onderhoud, geleentheidsbestuur en meer.
  • Ontwikkeling en Bemagtiging: Akademies sal help om ’n generasiepoel van plaaslike talent te ontwikkel tot voordeel van die groter Franschhoek-sakegemeenskap.
  • Besigheidsdeelname: Plaaslike ondernemings en entrepreneurs word genooi om voorstelle in te dien vir dienste soos ingenieurswese, argitektuur, landskapontwerp, sekuriteit, heinings, spyseniering, toerisme, onderwys, borgskappe, gasteverblyf en meer.
  • Opleiding en Ontwikkeling: Jeuggerigte programme in sport en bewaring sal langtermyngeleenthede vir vooruitgang skep.

Besoek die ARC van Franschhoek

Buitelugsport- en natuurliefhebbers kan ARC van Franschhoek reeds besoek deur ’n dag-, week- of jaarpas op Quicket.co.za aan te koop.

Om ARC van Franschhoek vanaf Stellenbosch of Kaapstad te bereik, ry deur Franschhoek, draai regs by die Hugenotemonument en weer regs op Robertsvleiweg. Hou aan ry tot by die parkeerarea en hek. Goedgemanierde honde is welkom!

Teks: Redaksie | Foto’s: ARC of Franschhoek