Home Lifestyle Die Alsiende Oog Wat Waak Oor Stellenbosch

Die Alsiende Oog Wat Waak Oor Stellenbosch

245

Dit kyk al na die mense en gebeure in die Eikestad vir amper so lank as wat die VSA oud is. Ons sal almal een of ander tyd aangestaar word, en die kanse is goed dat niemand die stil teenwoordigheid sal agterkom nie. As mense in Dorpstraat afstap, of van onder na bo loop, is dit ‘n kwessie van tyd voor jy mooi binne die sigveld sal kom van die Alsiende oog wat na jou tuur uit sy eeue oue plek bokant ‘n gewelvenster.

Wanneer jy in die omgewing van die BP vulstasie kom, sal die sensitiewe siele besef dat iets anders begin voel. Kyk net rond, neffens is daar ‘n historiese Kaap-Hollandse gebou in die idilliese Kaap Baroque styl van sy era: La Gratitude. Lig jou kop dakwaarts na die digte gras bedekking en die impossante gewel. Daar, effe onder die gewelpunt, sal julle oë ontmoet. Net besonder interessante en eksentrieke mense kon gestalte gegee het aan so ‘n besondere stuk argitektuur. En was hulle nie!

Die eerste eienaar en die oorspronklik bouer was die plaaslike predikant tussen 1785 en 1830, Dominee Meent Borcherds. Hy was ‘n hooggeleerde man uit Friesland, onderlê in die streng teologiese dogmas van die dag. Toegewy om dit in Stellenbosch sigbaar te maak, het hy weggespring deur die kerkgebou te verbeter en te vergroot. Borcherds was ook vasbeslote dat die Huis van die Here nie sonder ‘n ordentlike orrel sal wees nie. Toe die kerkraad protesteer dat daar nie fondse is daarvoor nie, het hy doodeenvoudig een bestel uit Kaapstad, dit laat aflewer en die rekening aan die verstomde kerkvaders oorhandig. Dié dominee was ietwat van ‘n musikale genie ook, en het nie minder nie as nege minuette gekomponeer. En hy was ‘n kranige digter, die prosa het gevloei uit dieselfde pen waarmee hy sy preke geskribbel het.

In ‘n stadium het die enigmatiese prediker dit reggekry om ‘n goeie verhoging te onderhandel, want hy het volgehou dat hy ‘n klein plasie nodig het om sy groeiende familie te versorg en onderhou. Hy het dan ook ‘n goeie stuk grond bekom laer af in Dorpstraat, wat gestrek het tot by die Eerste Rivier. En teen 1798 het hy ‘n ruim woning opgerig wat bekend sou word as La Gratitude.

So ‘n vlytige en heilige presteerder kon mos nou nie sommer soos ander sondaars in die grond opeindig nie, so Borcherds het in sy tyd toegesien dat verskeie mausoleums opgerig is op die kerkgronde. Een van die mees sigbares het sy eie rusplek geword. Dit kan gesien word vanaf die straat, tweede van links langs die kerk, met ‘n grys steen daarvoor wat sy naam en lewensjare aandui.

Terug na La Gratitude… as mense voor die deur staan, is die vensters aan weerskante van die voordeur van die Borchard familie se oorspronklik huis. Die uitbreidings aan weerskante was die werk van ‘n ewe fassinerende karakter: die Amerikaner William Charles Winshaw.

La Gratitude ets deur Hilda Mary Pemberton

Winshaw het van sy huis in Kentucky weggeloop op die jong ouderdom van 12. Die seun het werk gekry op ‘n Mississippi stoomboot, en teen 1900 was hy per skip op pad na die Kaap met 4000 muile vir die Britse weermag se stryd in die Anglo Boere-oorlog. Hy was versot op Stellenbosch, het besluit om dit sy tuiste te maak en kort voor lank het hy La Gratitude aangekoop. Winshaw het die woning groter gemaak, en ook later mede-eienaar geword van Oude Libertas. Soos Borchards het hy ‘n onmisbare merk gemaak op die dorp. Hy’t gou die potensiaal van die plaaslike wyne raakgesien, en in die 1920’s die Stellenbosch Boere Wynmakery gestig. Die maatskappy het in 2000 met Distillers Korporasie saamgesmelt om Distel te vorm. Teen 2023 het Heineken die entiteit oorgeneem.

En dis hoe die Alsiende Oog gewaak het oor twee buitengewone en invloedryk persoonlikhede se doen en late by La Gratitude, doenig om hul permanente stempels op Stellenbosch af te druk: ‘n talentvolle Man van God uit die Nederlande met ‘n diep aanvoeling vir die estetika en die goddelikeheid, en ‘n kleurvolle avonturier uit Amerika met ‘n voorliefde vir geldmaak en goeie wyn. ‘n Mens wonder wat die Oog maak van die gebou se huidige bewoners.

Teks: Redaksie | Foto’s: Wikimedia