And it all goes into the laundry
But it never comes out in the wash
‘Ow we’re sugared about by the old men
(‘Eavy sterned amateur old men!)
That ‘amper an’ ‘inder an’ scold men
For fear o’ Stellenbosch!!
(Rudyard Kipling)
Niemand dink aan konstrasiekampe op ‘n besoek aan die Wynlande nie. Die Suid-Afrikaanse Oorlog (of Anglo-Boereoorlog) van 1899-1902 sluit onvermybaar die verhale in van die afgryslike kampe in die noorde van die land. Maar nie baie mense is bewus daarvan dat “ge-Stellenbosch” ‘n werkwoord was nie, wat rillings deur Britse troepe gestuur het.
Militêre historici glo die Boere-oorlog was ‘n kleedrepetisie vir die Wêreldoorloë, want dit was die eerste keer dat magte van regoor die aarde bymekaar gekom het om teen mekaar te veg. Soldate van die Britse Eilande, Kanada, Indië en Australië het aanvalle geloods teen die Boere, wat weer ondersteun is deur Duitsers, Russe, Franse, en self Amerikaners. Hoewel dié oorlog op skaal aansienlik kleiner was, was die afgryse wat toegepas is ‘n vreesaanjaende voorbode van alles wat sou volg in die dekades daarna.
In ‘n era voor vliegtuie, tenks, hommeltuie en vragmotors, was die middel van vervoer in oorloë hoofsaaklik perde. En die Britte het soveel nodig gehad as wat hulle kon kry. Perde en muile is na Suider-Afrika gebring van regoor die Britse Ryk, en is ook ingevoer van ander lande en kontinente. Ná die lang skeepsreise was die diere glad nie in ‘n goeie toestand nie. En hulle moes vinning regkom om die pad na die slagvelde van die noorde aan te pak. Ongeveer 206 000 perde en 91 000 muile het in Suid-Afrika aangekom oor die drie jaar van die oorlog. Hervestigingskampe is oral naby die onderskeie hawens opgerig.
In daardie tyd het Cecil John Rhodes verskeie plase gehad naby Stellenbosch. Hy het Nooitgedacht, Koelenhof, en Simonsig tot beskikking gestel van die Britse weermag. Nooitgedacht het ‘n reuse perdekamp geword. Dit was by verre die besigste een van almal, en het met sy hoogtepunt 1 400 perde per dag ingeneem. Die werk is hoofsaaklik gedoen deur Indiërs wat per skip vanaf hul koloniale tuisland gebring is. Die plantasies op Nooitgedacht het gou onder Stellenbossers bekend geword as die ‘Kalkutta Woud”, ook as gevolg van die krotlike omstandighede wat in die kamp geheers het.

Die kamp is egter ook aangewend as ‘n tipe detensiebarakke. Enige soldate wat hulle Britse meesters op watter wyse ookal affronteer het, is opgepak en na die suide gestuur. Dié wat die ondervinding oorleef het, kon vertel wat dit behels het om “ge-Stellenbosch” te word.
As gevolg van die siektes en peste waarmee die perde en muile van oraloor aangekom het, was omstandighede in die kamp verskriklik. Die werk was fisies geweldig uitputtend en emosioneel oorweldigend. Selfmoord en siektes het bygedra tot die ellende en die reuk van dood, benewens ander probleme wat die haglike omstandighede vergesel het. Uiteindelik het die kamp só berug geword, dat die Britse Parlement samespekings gevoer het oor die geestelike gesondheid van soldate, jare voordat begrippe soos bomskok en oorlogsuitputting (later medies omskryf as Post Traumatiese Stres) bekende terms geword het.
Die hartseer verhale wat Brittanje bereik het, het selfs die digterspen van Rudyard Kipling beweeg om te protesteer. Sy gedig reflekteer die minagting en wrok wat die soldate gekoester het jeens hulle generals en senior offisiere wat mens en dier kon onderwerp aan soveel leiding. “Ge-Stellenbosch” het vir die Britse troepe die amptelike stempel geword vir ‘n vonnis na die hel, net soos die kampe van die noorde was vir die Boerevroue, -kinders en -bejaardes.
So wanneer jy op die R44 by Nooitgedacht verby ry, dink aan die arme mans en onskuldige diere wat in hierdie omgewing gely en omgekom hom vir ‘n imperiale droom wat nie hulle s’n was nie. En vir ‘n Britse Ryk wat binne ‘n halfeeu sou begin verkrummel.
Met hulle wortels in dieselfde trane- en bloed-deurdrenkte grond, onthou die wingerde.
Teks: Eduan A.J. Naudé | Foto’s: Litnet, Simon, SHF







