Home Food and Wine Gedagtes uit my Kombuis

Gedagtes uit my Kombuis

Erfenismaand

405
Gedekonstrueerde boereworsrol

Erfenismaand: Eerste Bloeisels, Eerste Braai, en die Laaste Knoop Wat Hou

Ek weet nie van jou nie, maar teen die tyd wat September aanbreek, begin my jeans al ’n stille protes. Winter in die Wynlande is ’n gevaarlike tyd — té veel ryk bredies, rooiwyn “vir warmte,” en poeding wat geregverdig word as ’n “bederfie om deur die koue te kom.” Iewers diep in Julie het ek myself oortuig dat malvapoeding as ’n groente tel. Dis mos met appelkooskonfyt gemaak, né?

Net wanneer jy dink jy moet ligter begin eet — slaaie, stappies in die buitelug, dalk selfs die voedselverwerker afstof vir ’n groen smoothie — breek Erfenismaand aan. En skielik praat ons nie meer van spinasie en selfbeheersing nie, maar van braaibroodjies, boerewors, aartappelslaai, chakalaka en melktert. September in Suid-Afrika is basies ’n nasionale verskoning om te ooreet, en wie is ek om teen tradisie te stry?

Die ding van Erfenismaand is dat dit nie net oor kos gaan nie — dit gaan oor ÁL die kos. Die Suid-Afrikaanse kombuis is ’n besige, geurige, effens chaotiese plek. Ons het Franse flair (dankie, Hugenote), Kaaps-Maleise speserye, Afrikaanse trooskos, Indiese kerries, Xhosa umngqusho en Zoeloe chakalaka. Ons kulinêre erfenis is soos ons weer — onvoorspelbaar maar altyd interessant.

Die probleem — en die plesier — is dat Septemberweer in die Kaap nooit kan besluit wat dit wil doen nie. Een dag sit jy in ‘n kortmouhemp met roomys in die son, die volgende dag is jy terug in ’n woltrui met ’n stomende pot kerrie. Dus hou jy natuurlik albei spyskaarte byderhand: slaaie en bredies, sorbet en melktert. So is jy reg vir enigiets.

En dan is daar die braai. Die groot vereniger. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie — staan net langs ’n vuur met iets wat sis, en jy is deel van die klub. Natuurlik het elke braai sy debatte: gas teenoor hout, boerewors in ‘n spiraal of reguit, en of aartappelslaai met mayonnaise regtig ’n slaai is of bloot ’n koue koolhidraatbesorgdiens.

Teen die einde van die maand sal ons onsself vertel dat al hierdie feesviering deel is van erfenisbewaring, en dit ís. Maar dit gaan ook oor verbinding — om om tafels te sit, borde aan te gee, stories uit te ruil, en instemmend te knik wanneer iemand sê: “Net nog ’n stukkie.”

So ja, miskien het die winter ons alreeds ’n ekstra bietjie “erfenis” om die middellyf gegee. En ja, Erfenismaand mag nog ’n laag byvoeg. Maar komaan — dit ís wie ons is.

Lente is ook die perfekte tyd om selfs die mees trots Suid-Afrikaanse braaigunsteling ’n vars, ligter interpretasie te gee. Hoekom probeer jy nie my gedekonstrueerde boereworsrol nie?

Bestanddele:

  • 500g boerewors
  • 1 avokado, gekap
  • 1 geelrissie, in repies gesny
  • 1 pakkie (+- 100g) suikerertjies, in die helfte gesny
  • 1 ½ koppies gekapte kersietamaties
  • 1 ½ koppies kroutons of ’n paar snye geroosterde suurdeegbrood
  • Sout en peper na smaak

Slaaisous:

  • ¼ koppie olyfolie
  • 2 e lepels witwynasyn
  • 2 t lepels soet chilisous
  • Sout en peper na smaak

Metode:

Braai die boerewors. Sny dit in 1cm-skyfies en plaas in ’n slaaibak. Voeg die res van die bestanddele by en meng deur. Geur met sout en peper.

Klop die slaaisousbestanddele saam, giet oor en meng.

Teks: Chantal Lascaris | Foto: Verskaf