Home Food and Wine Gedagtes Uit My Kombuis

Gedagtes Uit My Kombuis

Die Smaak van Vriendskap

232

Desember verras my elke jaar. Die een oomblik dink ek nog aan lenteslaaie en die volgende dek ek die tafel onder die bome en wonder hoe nóg ’n jaar so vinnig verby kon vlieg. Maar watter wonderlike tyd is dit nie — die vallei op haar mooiste, wingerde swaar met belofte, en daardie onmiskenbare feestelike gees in die lug.

Ons soort Kersfees het niks te doen met knetterende vure of stomende glase gekruide wyn nie. By ons is dit die reuk van sonskerm, die klank van proppe wat skiet, en die gesig van mense wat hul skoene uitskop voordat hulle by die tafel aansit. Die tafel word elke jaar langer — vriende wat familie geword het, familie wat vriende geword het, en die ekstra stoel wat op die laaste minuut ingeskuif word.

In ons huis is kos die goue draad wat alles bymekaar hou. Die oggend begin met te veel kokke in die kombuis — iemand wat room klits, iemand wat “proe” aan die geroosterde aartappels, en iemand anders wat soek na die kurktrekker wat altyd spoorloos verdwyn. Daar is lag, ’n bietjie chaos en die heerlike geur van iets wat stadig deur die huis versprei.

Hierdie jaar hou ek dit eenvoudig, maar vol geur. ’n Skinkbord met geroosterde perskes, geskeurde mozzarella en basiliekruid as voorgereg. ’n Lamskouer, stadig met rosmaryn en suurlemoen gaargemaak totdat dit met ’n vurk uitmekaar val. En ’n pavlova hoog belaai met bessies en ’n druppel plaaslike heuning — want dit sal mos nie Kersfees wees sonder ’n bietjie drama by die nagereg nie.

Maar die ware wonder lê nie net in die kos nie. Dis in die klink van glase, die stories wat gedeel word, die kinders wat tussen stoele deurhardloop, en daardie stil oomblikke wanneer jy om die tafel kyk en besef — dít is dit. Dít is waaroor die seisoen regtig gaan.

Vir my smaak vriendskap en familie dieselfde — oorvloedig, vertroostend, soms ’n bietjie deurmekaar, maar altyd vol liefde. En dis presies hoe ek my Kersfeestafel verkies.

Geroosterde Perske- en Mozzarellaslaai

Dis so eenvoudig soos dit klink, en dit lyk pragtig op die tafel.

  • 6 ryp perskes, gehalveer en ontpit
  • Olyfolie om te borsel
  • 2 bolle vars mozzarella (of burrata as jy luuks wil wees)
  • ’n Handvol basiliekruidblare
  • ’n Bietjie plaaslike heuning
  • ’n Bietjie suurlemoensap
  • Seesout en swartpeper

Borsel die perskes liggies met olyfolie en rooster (of braai) totdat dit net begin karamelliseer. Rangskik dit op ’n skinkbord met die geskeurde mozzarella, strooi die basiliekruid oor, drup met heuning en suurlemoen, en geur. Bedien effens warm met ’n yskoue glas verfrissende witwyn – plaaslik natuurlik.

Dis sonlig op ’n bord — eenvoudig, oorvloedig, en die lekkerste wanneer dit gedeel word. Is dit nie presies waaroor Kersfees, en vriendskap, gaan nie?