
346 jaar gelede, op 8 November 1679, het Stellenbosch ’n beskeie, maar ook romantiese ontstaan gehad toe die nuwe kommandeur van die Kaap, Simon van der Stel, en sy span die Eerste Rivier oorgesteek en kamp opgeslaan het op “’n klein eilantjie rontsom met versch water omstroomt”. Aan die westelike punt van die eiland was daar ’n woud, wat Simon onmiddellik geïnspireer het om die plek Stellenbosch te noem.
Die rivier het verdeel en ’n eiland gevorm by die “Ou Landbousaal” – vandag die tuiste van Aunt Sophie’s Kitchen – met een tak wat afloop in vandag se Dorpstraat.

Simon se eie verjaarsdag was net ’n paar weke vroeër, op 14 Oktober. Vanjaar sou sy 386ste verjaarsdag wees. Sy 40ste verjaarsdag, twee dae nadat hy van die skip aan die Kaap afgestap het, was ’n keerpunt: ná soveel reise oor die oseane sedert sy geboorte, sou hierdie plek sy permanente tuiste word. Hy sou nooit weer die Kaap verlaat nie.
Simon van der Stel is in 1639 gebore, op ’n skip êrens op die Indiese Oseaan. Sy vader, Adriaan, was op pad om die eerste Goewerneur van Mauritius vir die VOC (die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie) te word, en sy moeder, Maria Lievens, was die dogter van die VOC-amptenaar Hendrick Lievens en Maria de Costa, wat ’n Indiese-Maleisiese slaaf was voor haar huwelik. In 1645 het die Van der Stel-familie na Ceylon (vandag Sri Lanka) verhuis. Simon was net ses jaar oud toe sy vader die volgende jaar deur een van die konings van Ceylon vermoor is. Maria en haar kinders het toe na Batavia verhuis.
Die volgende groot gebeurtenis in Simon se lewe het in 1659 plaasgevind toe hy, op twintigjarige ouderdom, vir die eerste keer na sy vaderland, Nederland, gereis het. Hy het hom in Amsterdam gevestig en binne ’n paar jaar, in 1663, met Johanna Jacoba Six, die dogter van ’n kollega en mentor, getrou. Dit was volgens oorlewering nie ’n gelukkige huwelik nie, en toe Simon in 1679 as die tiende Kommandeur van die Kaap van Goeie Hoop aangestel word, het sy verkies om agter te bly. Hulle sou mekaar nooit weer sien nie. Dit lyk egter asof hulle op goeie voet gebly het; tot haar dood in 1700 het hulle in kontak gebly en vir mekaar geld en meubels gestuur. Elke kind wat Simon by haar gehad het, het hom ten minste een keer aan die Kaap besoek. Twee van hul seuns, Frans en Willem Adriaan, het besluit om aan die Kaap te bly – iets wat Simon ongelukkig nie vreugde besorg het nie.
Nog voordat Simon na die Kaap verhuis het, het hy ’n belangstelling in wynmaak ontwikkel. Hy was saam met sy vriend Hendrik Adriaan van Rheede tot Drakenstein (ja, dit was sy volle naam!) mede-eienaar van ’n wynplaas in Muiderberg in Nederland. In 1685 het Van Rheede tot Drakenstein vir Simon aan die Kaap besoek op pad na sy nuwe pos as Goewerneur-Generaal van Batavia. Tydens ’n stappie op ’n heuwel naby Coetzenburg het hy oor Stellenbosch uitgekyk en vir Simon opdrag gegee om daar ’n kerk en ’n drostdy (die ampwoning en kantoor van ’n landdros) te bou. En net so het die Kaap opgehou om bloot ’n verversingspos te wees – dit het ’n ware kolonie geword! Dit het ook beteken dat Simon in 1691 bevorder is tot die eerste Goewerneur van die Kaap van Goeie Hoop.
Die bou van die kerk en die drostdy het in 1686 begin. Simon was nie teenwoordig toe die hoekstene gelê is nie; hy was weer op reis, hierdie keer deur Namakwaland. Daar word geglo dat hy so ver noord as die grens van vandag se Namibië gereis het, en daarna oos tot by die plek waar Bloemfontein vandag is.
Hy is op sy geliefde plaas Constantia oorlede op 24 Junie 1712 – ses jaar nadat sy twee skelm seuns uit die Kaap verban is – en lê vandag begrawe in die Groote Kerk in Kaapstad.
Simon van der Stel se nalatenskap sluit die internasionaal bekende Kaapse wynbedryf in. Hy het ook sy naam gegee aan Stellenbosch en die Simonsberg, sowel as Simonstad.
Teks: Eduan A.J. Naudé | Foto’s: Wikimedia






