Home Lifestyle Ode aan De Oude Werf

Ode aan De Oude Werf

247

Wat vir ‘n naam is De Oude Werf? Wel, mens moet meer as 300 jaar teruggaan in tyd om daarvan sin te maak.

Die welbekende en ikoniese stukkie aarde het oorspronklik sy unieke naam verwerf weens sy rol as die eerste plek van aanbidding op Stellenbosch. Dit was hier waar die hoeksteen in 1686 gelê is vir die bou van ‘n kerk wat, tesame met die Drostdy, van die eerste nedersetting buite die Kaap ‘n regte dorp gemaak. Daarmee het die Kaap se status ook gestyg van ‘n blote verversingstasie tot ‘n volwaardige kolonie. Maar tragies het die gebou in vlamme opgegaan in die verwoestende dorpsbrand van 1710. Die perseel het daarna vir meer as sewe dekades onbenut gelê. Vir die dorpenaars was dit bloot “De Oude Kerken Werf.”

Die onversorgde erf het egter ‘n bietjie van ‘n irritasie geword op die dorp. Die dorpsbestuur het gevoel dis nie hulle werk om daarna om te sien nie, dit behoort tog aan die kerk. Die kerk weer het hulle hande gewas, hulle was dan hervestig aan die bopunt van Kerkstraat. Teen 1783 het die landdrost besluit: “Basta, nou onderverdeel en verkoop ons!” Die aansienlike stuk aarde – tussen Ryneveld-, Andringa-, Plein-, en Kerkstraat, het heel fluks verkoop. En net daar had die kerkvaders ‘n Damaskus oomblik: “Dis dan ons plek, waar’s ons geld?!”

Die spesifieke erf waar die Hotel nou staan, was tussen 1783 en 1800 deur verskeie mense besit. Die belangrikste figuur onder hulle was ene Marthinus Wolferum van Hesse-Kassel in Duitsland, wat die erf en met sy woonhuis gekoop het op 24 Oktober 1800. Die vroegste rekord wat aandui dat die woning ‘n oornagplek geword het, teen ‘n fooi betaalbaar aan mnr Woferum, is in 1802.

Teen die volgende jaar was dit duidelik ‘n volwaardige familieherberg. In 1803 het Dr. Heinrich Lichtenstein daar gebly teen 3 Rijksdalers per dag, met drie etes en Kaapse wyn ingesluit. (Vir ingevoerde wyne moes mense ekstra betaal!) ‘n Onbekende skrywer het wel in die 1800’s gekla dat 3 Rijksdalers na sý mening bietjie styf was, maar die gasheer was darem baie vriendelik en die tafels het elke dag gekreun onder al die smaaklike etes en vars vrugte.

In 1811 het Wolferum die plek verkoop, en daarna het dit verskeie kere van eienaars verwissel. Teen 1838 het dit in die besit gekom van die Wium familie, wat daar gebly het tot 1896. In daardie tyd het uitgelese gaste in die herberg begin oorbly. Met die besoek aan die Kaap deur Prins Alfred van Brittanje in 1860, het Goewerneur Sir George Grey hom vergesel na Stellenbosch. Die Prins is gehuisves by Dominee, maar weens die gebrek aan genoeg spasie in die Pastorie is die Goewerneur ingeboek by Arcadia, soos die herberg toe bekend was.  Hy was die einste Sir George Grey na wie Grey College in Bloemfontein vernoem was. En dit was ook met dié besoek wat Prins Alfred die eerste sooi gespit het vir konstruksiewerk by die Kaapse hawe, vandag bekend as die Victoria en Alfred Waterfront.

Die eienaars ná die Wiums het gesukkel, een moes selfs insolvensie verklaar. Die familie Marais, wat dit oorgeneem het in Desember 1898, het ‘n befaamde era ingelui. Hulle het onder andere die Kerk gerestoureer, ‘n biblioteek gebou vir die Kollege (wat later die Universiteit sou word) en die plaas Coetzenburg nagelaat aan die Universiteit.

Die toenemende groei van studentetalle het gelei het tot ‘n vraag na langer termyn losies. Inwonenede studente was bekend as “Parlour Boarders”, omdat mense selfs hulle sitkamers ingespan het om meer huurders in te pas. Die herberg het egter redelik gou weer sy deure oopgemaak vir toeriste en gewone besoekers. Teen hierdie tyd, die middel 1900’s, is die naam verander van Arcadia na D’Ouwe Werf. Meer onlangs het dit De Oude Werf geword.

Met die grawe van fondasies op die erwe van De Oude Kerken Werf, is voortdurend op grafte afgekom. Die vermoede het ontstaan dat die De Oude Kerk eens op Erf 5 moes gestaan het, waar die herberg was en die hotel vandag is. Dis bevestig toe daar teen die laat 1900s uitgebrei is om plek te maak vir die hotel se restaurant en kombuise.  De Oude Werf was gaaf genoeg om die fondasies te bewaar, en dis toeganklik vir besoekers aan die hotel.

En dít is hoe De Oude Werf sy naam verdien het: dis die perseel waar die oudste kerkgebou in Suid-Afrika se fondasies nog te sien is, die oudste plek waar mense oornag geherberg is, en die plek waarvandaan Stellenbosch se oudste spook en sy perd nog gereeld in die nanag hulle moeisame rondtes doen.

Teks: Eduan A.J. Naudé | Foto’s: Oude Werf