Boomplant word dikwels beskou as ’n eenvoudige oplossing vir klimaatsverandering. Maar wanneer dit lukraak gedoen word, kan boomplant in Afrika meer skade as goed aanrig – dit verdring biodiverse grasvelde, verminder waterbeskikbaarheid, en ondermyn bestaansmiddele.
Die Southern African Trees for Climate Adaptation and Resilience (SAT-CARe)-projek, geanker by die Universiteit Stellenbosch, met vennote regoor die streek, poog om dit te verander.
Die projek ontwikkel ’n ooptoegang digitale hulpmiddel wat klimaat-, grond- en spesie data gebruik om die slim gebruik van inheemse bome in Suider-Afrika te rig, met planne om dit na die hele kontinent uit te brei.
Hierdie hulpmiddel sal beleidmakers, boere en stedelike beplanners help om die beste endemiese spesies te kies vir herbebossing, stedelike vergroening, ekologiese herstel en bestaansmiddele – en wegbeweeg van impulsiewe swak ingeligte aanplanting van nie-inheemse bome.
Uitdagings van Bebossing
“Boomplant word dikwels aangebied as ’n wondermiddel vir klimaatsverandering,” sê prof. Guy Midgley, Direkteur van die Skool vir Klimaatstudies aan US. “Maar die verkeerde bome op die verkeerde plekke kan biodiversiteit verminder, watersekerheid bedreig en bestaansmiddele beskadig. Dit is nie ’n probleem van die noordelike halfrond nie – dit is óns uitdaging, en ons het ons eie modelle nodig.”
Hy waarsku teen Afrika se “bebossingsprobleem”: houtagtige plante wat in grasvelde versprei weens stygende CO₂-vlakke, en eksterne rolspelers wat ongeskikte aanplantingskemas afdwing.
Afrikabome vir Afrikalandskappe
SAT-CARe pleit vir Afrikagerigte oplossings. “Hoekom plant ons uitheemse spesies in belangrike opvanggebiede waar hulle te veel water verbruik, die grond verander, en veldbrande aanwakker? Ons moet inheemse hulpbronne gebruik,” het Midgley aan belanghebbendes by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie gesê.
Die projek se doelwit is om inheemse spesies aan te pas by landskappe vandag én onder toekomstige klimaatstoestande – van kremetart en maroela, tot mopanie, worsboom, miombo en geelhout.
Deur omgewingsdata aan spesie-eienskappe te koppel, sal die hulpmiddel byvoorbeeld boere help om bome te kies vir droogteverdraagsaamheid, voedsel of voer, en stedelike beplanners lei na skadubome wat nie skaars water uitput nie.
Navorsers en data van Suid-Afrika, Botswana, Mosambiek, Namibië, Zambië, Zimbabwe en Kenia voed modelle wat oor ekosisteme van savanne tot bergwoude getoets word, met die doel om riglyne te skep wat oor Afrika geskaal kan word.
Dataprobleem
Vir die projek om te slaag, moet klimaat-, grond-, CO₂- en veldbranddata geïntegreer word met boomkenmerke en sosio-ekonomiese aanwysers.
“Dit is nie net ’n data-oefening nie,” sê prof. Kanshu Rajaratnam, Direkteur van die Skool vir Datakunde en Rekenaardenk aan US. “Ons bou modelle wat deur beleidmakers en gemeenskappe gebruik kan word.”
Dr. Jan Greyling van US se Fakulteit Agriwetenskappe verduidelik: “Gebruikers sal ’n spesienaam intik, ’n klimaatscenario kies, en ’n kaart genereer wat wys waar daardie spesie waarskynlik sal floreer.”
Afrika-veerkragtigheid
“Afrika ontvang minder as 3% van internasionale befondsing vir klimaatsveranderingswetenskap, en die helfte daarvan gaan aan nie-Afrikaanse wetenskaplikes. Dit laat ons uiters kwesbaar,” sê Midgley.
SAT-CARe is deel van die Africa–Europe Cluster of Research Excellence on Nature-based Solutions for Climate Change Adaptation and Mitigation, saamgestel deur die African Research Universities Alliance (ARUA) en The Guild of European Research-Intensive Universities. Die groep bevorder natuurgebaseerde oplossings wat klimaatsrisiko’s verminder, biodiversiteit beskerm en bestaansmiddele ondersteun.
“SAT-CARe gaan nie net oor bome in Suider-Afrika nie. Dit gaan oor Afrikaanse navorsers wat kennis genereer wat plaaslik gegrond is, maar wêreldwyd relevant,” sê Midgley.
Vrywaring: Hierdie projek word ondersteun deur Lacuna Fund en die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ). Die menings wat uitgespreek word, weerspieël nie noodwendig dié van die Fonds, sy Stuurkomitee, befondsers of die Meridian Institute nie.
Teks: Redaksiespan | Foto: Markus Kammerman van Pixabay







