Min inwoners van Stellenbosch sal deesdae ‘n vlaag van vreugde ervaar wanneer hulle hoor dat hulle die pad na Kaapstad moet aandurf. Dit verg ‘n mate van beplanning: is daar enige verkeersopeenhopings om te oorweeg, onglukke om kennis van te neem, padwerke om te vermy? Moet jy die N1 of N2 neem, of dalk op ‘n stadium na Voortrekkerweg draai? En Vrydae is ‘n nagmerrie, vergeet dit. En dit alles terwyl ons die luukse van snelweë het. Miskien is ons net bederf, want ‘n paar eeue gelede was dit ‘n ware gruwel om van die klein dorpie met eikebome na die Kaap te reis.
Gedurende die 18de eeu was daar slegs twee paaie vanaf Stellenbosch na Tafelberg, interessant genoeg langs dieselfde roetes as die hoofroetes wat ons vandag gebruik. Die een het dieselfde roete as die huidige N1 gevolg. Maar dit was uiters rotsagtig, sowel as bergagtig in die Tygerberg-gebied. En boonop sou jy amper seker luiperds langs die pad teëkom, of ‘tygers ‘ soos die Nederlanders hulle genoem het. Dus was hierdie roete glad nie die voorkeurroete na die Kaap nie.
Die ander een was oor die vlaktes, min of meer langs die N2 van deesdae. Maar hierdie een het sy eie uitdagings gehad, waarvan die grootste die diep en los sand was. Met ‘n goeie perd wat die sanderige roete kon hanteer, sou dit steeds 4 tot 7 uur neem voordat die Kasteel in sig sou kom. En dan was dit net jy en jou perd en die klein aantal items wat in die sakke kon pas.
As ‘n groter vrag nodig was, moes die ossewa gelaai word. Die waens het aansienlike spasie gehad en die groot wiele kon amper enige terrein hanteer. Maar hulle was stadig en die diere moes langs die pad versorg word. As jy regtig meer items moes saamneem as wat in die saalsakke en rugsak kon pas, en die osse moes ingespan word, sou jy ‘n toer beleef… die groter deel van twee dae op die pad. En dis as niks langs die pad verkeerd geloop het nie.
Vir byna 200 jaar – tussen 1679, die geboortejaar van Stellenbosch, tot die laat 1800’s – was dit die enigste opsies as jy die Kaap moes bereik.
Reis tussen die Kaap en sy eerste plattelandse dorp het eers in 1862 makliker en vinniger geword. Dit was die jaar toe die trein na die Boland gekom het. Die eerste lyn vanaf Kaapstad het na die Eersterivier geloop, en dit is op 13 Februarie 1862 geopen. Kort daarna is dit vanaf Eersterivier na Stellenbosch verleng. Daardie lyn is op 1 Mei in dieselfde jaar geopen. Ongeveer ‘n jaar en ‘n half later, op 4 November 1863, het die eerste trein op die spoor tussen Stellenbosch en Wellington geloop. Dit was ‘n era van tegnologiese wonderwerke, en ‘n welkome toevoeging tot die lewe in die Wynlande.
So, die volgende keer as jou hart sak by die gedagte aan ‘n vergadering of enige ander besigheid om in Kaapstad af te handel, dink aan ons voorouers en die uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het om die Kaap te bereik. ‘n Reis van 45 minute – of miskien ‘n bietjie langer op ‘n slegte dag – is steeds oneindig meer wenslik as om twee dae op rowwe terrein deur te bring om daar te kom, en dikwels in onvriendelike Kaapse weer. Die nostalgiese dae van nie so lank gelede nie, toe ons amper enige tyd van die dag op ‘n trein kon spring vir ‘n goedkoop en veilige reis reguit na die hartjie van die Moederstad, is ‘n ander storie. Maar kom ons hou ons trane vir eers terug.
Teks: Eduan AJ Naudé | Illustrasie: William Fehr-versameling







