Home Lifestyle Historiese Stellenbosch: Erfurthuis

Historiese Stellenbosch: Erfurthuis

349

Erfurthuis, een van die bes-bewaarde historiese geboue in Stellenbosch, staan op eeue-oue landbougrond, en sy naam resoneer met die Duitse gene wat aan die ou Kaap aangeland het.

Onder die landbougrond wat in die laat 1600’s opsygesit is, was ‘n strook wat aan Harmen Janz Potgieter toegewys is, wat hy in 1683 in besit geneem het. Byna 200 jaar later het dit ‘n woongebied met ‘n skool geword. In 1876 het Johan Marthinus Beyers, bekend as Jan, ‘n indrukwekkende dubbelverdieping-villa gebou om sy steeds-groeiende gesin te huisves. Alhoewel dit in die Victoriaanse era gebou is, het dit tog kenmerke van die Hollandse Koloniale boustyl van die omgewing weerspieël. Die opvallendste kenmerk van die gebou is die indrukwekkende smee-yster en hout balkon wat om die hele huis vou. Die dubbele voordeure het glassyvensters en ‘n waaiervenster wat oor die ingang boog. Die historiese tuin is omhein deur ‘n unieke smee-yster heining met hekke uit dieselfde era.

Erfurthuis, Stellenbosch
Erfurthuis voor die balkonne weer in ere herstel is.

Jan het die huis vernoem na die Duitse stad waaruit die Beyersfamilie se voorouers afkomstig was. Erfurt is ‘n stad in die sentrale deelstaat Thüringen, baie bekend as die plek waar Martin Luther, wat die vader van die Hervorming sou word, as monnik in die Orde van Sint Augustinus georden is nadat hy sy regstudie aan die plaaslike universiteit laat vaar het.

Teen 1907, toe Jan en sy vrou Anna hul 60ste huweliksherdenking gevier het, het Erfurthuis gewemel van kleinkinders, 18 in totaal, plus hul ouers. Dit het dalk ‘n aangename atmosfeer gelaat vir die geslagte kinders wat later onder hierdie dak sou woon, nadat die Bloemhof Skool oorkant die pad dit in 1911 gekoop en in ‘n koshuis omskep het. Dit was, aan die ander kant, ietwat ironies, want in sy latere jare sou Jan uitermate geïrriteerd raak deur die slegte maniere van die ‘moderne leerders’ wat, onder meer, hom sonder om behoorlik hul ouer te groet, verbygesteek het!

Dekades later het die Nederduitse Gereformeerde Kerk die gebou oorgeneem en dit in kantore omskep. In 1991 het Erfurthuis die hoofkwartier van die Stellenbosch Museum geword. Verskeie interessante programme word regdeur die jaar aangebied, veral tydens die gewilde Woordfees. Om ekstra fondse te genereer, het die Kuratore van die Stellenbosch Museum besluit om die kantore op die eerste verdieping te verhuur. Dit huisves nou die Woordfees NPO.

Erfurthuis huisves ook die biblioteek van die Stellenbosch Museum. Die rol van die museumbiblioteek is om ‘n inligtingsdiens aan museum personeel te verskaf en om wetenskaplike navorsing moontlik te maak. Alle bona fide navorsers en lede van die algemene publiek is welkom om die biblioteek te gebruik. Geen materiaal mag uit die biblioteek geleen word nie om te verseker dat dit beskikbaar is vir ander navorsers. Die biblioteek se versameling het twee fokusareas: kultuurgeskiedenis en die geskiedenis van Stellenbosch. Inligtingsbronne sluit boeke, tydskrifte, koerantuitknipsels, argeologiese en ander verslae in wat ‘n wye reeks onderwerpe dek.

Navorsers of lede van die publiek wat die biblioteek wil gebruik, word versoek om afsprake te maak met die bibliotekaresse voordat hulle die biblioteek besoek. Kontak haar by 021 887 2937 of library@stelmus.co.za.