Vier oesjare. Gehoute én ongehoute wyne. Drie wyke en ses distrikte uit drie streke. Dít is die besondere verhaal van die 2025 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10.
Die beoordelaarspaneel van die 19de jaarlikse FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie het die beste wyne van Suid-Afrika se veelsydigste kultivar na taai mededinging uit 167 inskrywings van 98 produsente bekroon.
Die wenners is op Woensdag 15 Oktober by die Vergelegen-wynlandgoed aangekondig. Tydens ’n middagete op die rivieroewer het seremoniemeesters Ryan O’Connor en Success Lekabe gaste op ’n FNB Top 10-“Mystery Road Trip” geneem om die topwyne uit 20 finaliste te onthul. Gaste moes met die hulp van ’n geïllustreerde kaart en ’n gemengde speellys – met kunstenaars soos Adele, Bon Jovi en David Kramer – hul pad vind in ’n viering van streekdiversiteit.
Die 2025 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 wys opnuut die besonderse omvang van die kultivar: vier wyne uit die Kusstreek, drie uit die Kaapse Suidkus, twee uit die Breederiviervallei en een uit die Wes-Kaap is bekroon.
Vanjaar se Top 10 (in alfabetiese volgorde):
- Ataraxia Sauvignon Blanc 2025 (Kaapse Suidkus)
- Cederberg Wines Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2024 (gehout) (Elim, Kaap Agulhas)
- Delaire Graff Coastal Cuvée Sauvignon Blanc 2025 (Kusstreek)
- Groote Post Sauvignon Blanc 2025 (Darling)
- Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Wes-Kaap)
- Maastricht Sauvignon Blanc 2025 (Durbanville)
- Merwida Sauvignon Blanc 2025 (Breedekloof)
- Rietvallei John B Sauvignon Blanc 2025 (Robertson)
- Steenberg Barrel Fermented Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Constantia)
- Vrede en Lust Artisan Range Blanc Fumé 2021 (gehout) (Elgin)
Vanjaar het die eerste optrede van dr Carien Coetzee as voorsitter van die beoordelaarspaneel ingelui, sowel as gebruik van die Franse maatskappy Winespace se baanbreker TASTEE-beoordelingsplatform. Saam met Coetzee op die paneel was dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en internasionale beoordelaar; Praisy Dlamini, wynmaker en uitvoerende hoof van Adama Wines en HER Wine Collection; wynmakers Morgan Steyn van De Grendel Wines en Juandré Bruwer van Diemersdal Wine Estate; asook gasbeoordelaars Liezl Richards, Kaapse Wynmeester en nasionale verkoops- en uitvoerbestuurder van Gabriëlskloof, en Lauren Segers-Jewell van Wine Cellar.
2025 Hoogtepunte: Eerste Boek, Eerste Aromawiel en 19de Kompetisie
“Ons het vanjaar groot mylpale bereik om ons boodskap oor die premiumgehalte en veelsydigheid van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc wêreldwyd te versterk,” sê Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc SA.
“Hoogtepunte sluit in ons deelname aan CapeWine, die bekendstelling van die eerste gesaghebbende boek oor Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc – The Story of South African Sauvignon Blanc – sowel as die bekendstelling van die eerste aromawiel vir die kultivar, in samewerking met Universiteit Stellenbosch, South Africa Wine en ander plaaslike en internasionale vennote.
“Vanjaar se FNB Top 10 weerspieël die uitnemendheid wat dié kultivar definieer. Die wenwyne is ‘n bewys van ons wynmakers se vernuf om tekstuur, kompleksiteit en verouderingspotensiaal uit hierdie edeldruif te ontgin. Ons is trots om jonger én ouer oesjare, sowel as ’n indrukwekkende verskeidenheid style uit koel en warmer streke te vertoon.
“Ons waardering gaan aan al die deelnemende produsente, sowel as aan ons titelvennoot FNB, platinumvennoot EVER Solutions, en al ons ander vennote vir hul volgehoue steun aan die enigste kompetisie wat uitsluitlik aan Sauvignon Blanc gewy is. Ons sien uit na die 20ste weergawe van die kompetisie in 2026.”
Stephan Claassen, FNB Besigheid se Provinsiale Hoof vir die Wes- en Oos-Kaap, het die Top 10-ontvangers gelukgewens en die belangrikheid van samewerking tussen die sakewêreld en landbou beklemtoon.
“Met inisiatiewe soos die Sauvignon Blanc SA Top 10 belê ons trots in ’n bedryf wat landelike ontwikkeling, werkskepping en ekonomiese groei in die waardeketting bevorder. Die toekoms van Sauvignon Blanc is belowend, en FNB bly daartoe verbind om voortgesette innovasie en sukses in hierdie sektor te ondersteun.”
Vind meer uit by: https://sauvignonblanc.com
Teks: Redaksie | Foto: Sauvignon Blanc SA







