Home News Nuwe Spesie Grondbakterieë in Fynbos Ontdek

Nuwe Spesie Grondbakterieë in Fynbos Ontdek

227
Dr Janca Pieters

Mikrobioloë van Stellenbosch Universiteit het ‘n nuwe bakerium genus in die filum  Acidobacteriota ontdek. Dit is die eerste genus van hierdie filum wat in Suider-Afrika beskryf is.

Alhoewel Acidobacteriota van die volopste grondbakterieë wêreldwyd is, is slegs ‘n klein fraksie ooit suksesvol gekweek en formeel beskryf.

Die nuwe spesie, Dedyshia acidiphilia, is geïsoleer uit grond wat in die Kogelberg- natuurreservaat in die Wes-Kaap, versamel is. Die ontdekking is onlangs in die ‘International Journal of Systematic and Evolutionary Microbiology’ aangekondig.

Kogelberg Natuurreservaat

Dr. Janca Pieters, ‘n postdoktorale genoot in die Departement Mikrobiologie aan die US en eerste skrywer van die artikel, sê hulle het verskeie grondmonsters van verskillende plekke regoor die reservaat versamel om die natuurlike diversiteit van die grondmikrobiese gemeenskap vas te lê.

“Die opwindende deel is dat elke grondmonster duisende bakteriese spesies bevat, waarvan baie nog nooit gekweek of beskryf is nie. Deur gespesialiseerde kweektegnieke te gebruik, kan ons soms organismes kweek wat tot nou toe verborge gebly het, soos Dedyshia acidifilie,” verduidelik sy.

Acidobacteriota groei uiters stadig en benodig dikwels voedingstof-arm toestande wat ooreenstem met die grond waarin hulle natuurlik voorkom. Hierdie en ander toestande, soos interaksies met ander mikroörganismes, is moeilik om in die laboratorium te reproduseer.

Die nuutondekte bakterium.

“Om die regte groeimedium te vind, verg dus baie geduld en optimalisering. Sommige Acidobacteriota neem maande of weke, eerder as dae, om sigbare kolonies te produseer.” In die geval van D. acidiphilia het dit amper ‘n maand geneem!

Prof. Karin Jacobs, ‘n spesialis in mikrobiese ekologie en hoofskrywer van die artikel, sê die bevinding is hoogs betekenisvol: “Dit verteenwoordig beduidende vooruitgang in ons kennis van die seldsame spesies in grond wat bydra tot belangrike grondvoedingstofsiklusse.”

Vir Pieters toon hierdie ontdekking dat Suid-Afrikaanse gronde, en veral biodiversiteitsbrandpunte soos die Kaapse Floristiese Streek, steeds ‘n enorme hoeveelheid onontginde mikrobiese diversiteit bevat.

“Elke nuwe gekweekte spesie help wetenskaplikes om beter te verstaan hoe hierdie organismes bydra tot grondgesondheid, voedingstofsiklusse en ekosisteemfunksionering,” voeg sy by.

Noudat die bakterie formeel beskryf en benoem is, is die volgende stap om sy ekologiese rol in die grond te ondersoek: “Ons wil verstaan watter voedingstowwe dit gebruik, hoe dit met ander mikroörganismes in wisselwerking tree, en watter bydrae dit lewer tot voedingstofsiklusse in die fynbos-ekosisteem,” verduidelik Pieters .

Die genoom daarvan verskaf ook leidrade oor gene wat nuwe ensieme of metaboliese weë kan produseer. Hierdie inligting kan toekomstige toepassings in biotegnologie, landbou of omgewingswetenskap hê.

Die nuwe genus, Dedyshia , is vernoem na die Russiese mikrobioloog, dr. Svetlana Dedysh van die Winogradsky Instituut vir Mikrobiologie, ter erkenning van haar beduidende bydraes tot die ontdekking en beskrywing van nuwe Acidobacteriota- isolate. Die spesienaam, acidiphilia, beteken suurliefhebbend (van die Latynse acidum vir suur, en die Griekse woord philos vir liefhebbend).

Teks: Redaksie | Foto’s: Brian van Wilgen & Ubaid Abrahams