Home Motoring Swart Towerkuns: Hoekom Tradisie Die A3 Steeds Laat Uittroon

Swart Towerkuns: Hoekom Tradisie Die A3 Steeds Laat Uittroon

448

Die gladde, keurig aangepaste A3 Black blý ‘n klassieke Audi-keuse. Dit spreek van goeie smaak, weelde en afronding (en nié afronding in die Ozempic sin van die woord nie.)

Kyk, die onlangs verfynde A3 35 TFSI Sedan Black Edition trek beslis aandag. Hierdie bulletjie vertoon ‘n bietjie meer gespierd as die gewone weergawe, en die swart aksente is só prominent dat ‘n vinnige blik jou kan laat dink dis ‘n S3. En dís mos ‘n goeie ding!

Afhangende van persoonlike smaak – én natuurlik ouderdom – het hierdie rakker ‘n soort Darth Vader aantrekkingskrag, kompleet met die swart jas en ‘n swaard wat whoo-whoo maak en boonop as flits dien. Dit gee die indruk van ‘n motor met ‘n doelgerigte houding, kompleet met quattro-spatsels.

Die versiering van die SA Black Edition is omvattend en strek van verdonkerde kentekens en Audi-ringe, tot sportiewe buffers, sportvering en ‘n S-drukvlerk, om net ‘n paar dinge op te noem. Die jongste kosmetiese- en gerief-opgraderings sluit in subtiel herontwerpte voor- en agterbuffers, asook opgedateerde LED-kopligte met aanpasbare ligpatrone en dinamiese flikkerligte, en – natuurlik – 18 duim allooi wiele.

Subtiele opgraderings herbevestig die klassieke A3-koelheid

Waar is ‘n motor op sy beste? Soos met ‘n restaurant, natuurlik binne! Daar vind jy ‘n vars multifunksionele drie-speek leerstuurwiel en ‘n besonder gemaklike sitplek, asook Audi se “comfort key”. Die motor het ook ‘n herontwerpte middelkonsole, met ‘n gladde nuwe afwerking en kontoerbeligting. Dié sprei na die deurpanele, as deel van die nuwe omgewingspakket. Ook nuut is die 100% herwinde poliëster tekstielversierings en Dinamica-mikroveselstof.

Audi se voortreflike bougehalte stel weereens nie teleur nie en word beklemtoon deur ‘n unieke rathefboom, deurknoppe en afwerkings. En, natuurlik, selfs nóg swart towerkuns binne. Die helder 12.3” virtuele kajuit en CarPlay met Auto Bluetooth MMI-aanraakskerm lyk indrukwekkend, al mag dit vir sommige dalk bietjie moeilik wees om baas te raak. In die geheel laat die A3 Black die indruk dat dit tot die mag 10 toegerus is. Audi se pakketkonsep laat jou toe om op te gradeer…teen ‘n premietjie, natuurlik.

Maar wag ‘n oomblik…

Waar is die trukamera? En wat van elektriese kantspieëls wat kan vou? Om nie te praat van elektriese sitplekke nie, laat staan nog die ventilasie en verkoeling daarvan. En, en, en? Dis ‘n bietjie kommerwekkend, veral aangesien ons ‘n stewige premie betaal vir “al daardie spesifikasies”.

‘n Spesifikasie-mynveld wat die bedryf toets

Ons het onlangs ‘n paar goed toegeruste Chinese motors toetsbestuur. Dis modelle het nié alleen Audi’s op hoër spesifikasievlakke ge-ewenaar nie, maar dit selfs oortref. Die dilemma is dat daardie mededingers baie keer ‘n fraksie kos van die A3. En hierdie Audi het R40 000 duurder geword sedert ons dit laas getoets het, terwyl baie Chinese motors intussen selfs goedkoper geword het. Ons raak gewoond daaraan om baie ekstras te kry teen relatief min geld.

Dit pas ons dat die goedkoop Chinese, Koreaanse en Indiese motors se basiese pakkette alles insluit – en selfs méér het – waarvoor Audi ons ekstra laat betaal. Hierdie swart versierings voeg nie net koste by nie, maar ook verwagtinge. Die Audi lyk soos ‘n vuurpyl, maar dis ‘n skaap in wolfsklere. Nie dat daar noodwendig fout is met 8.4 sekondes tot 100km nie. As jy egter onder 4 sekondes wil hê, moet jy maar die S3 probeer.

Werksverrigting en hantering

Daar is ‘n voldoende 110 kW en 250 Nm te kry van die 1400 cc turbo-petrolenjin. Die kraglewering voel selfs meer, om brutaal eerlik te wees. Hierdie swart Audi wissel ratte via ‘n 8-spoed Tiptronic en stuur wringkrag na die vooras. Opsommenderwys: Doeltreffend en maklik, die ritgehalte is verfyn, en die A3 is gemaklik.

A3 Black Edition – ‘n skaap in wolfsklere?

Op die pad hanteer die A3 goed, en bied goeie terugvoer aan die bestuurder. Die stuur, versneller en remme voel ‘n bietjie minder oorgevoelig as voorheen. Mens se blywende indruk is dat hierdie A3 meesal alles sommer net reg doen. En dís is waar hierdie slim Audi sy plek sal volstaan: aan die beter kant van gemiddeld.

Destyds was motors soos hierdie al wat jy kon kry. As jy ‘n besondere spesifikasie wou hê, was dit beskikbaar, jy moes net betaal. Die probleem is dat die mark vinniger verander het as wat ons ooit sou kon dink. Tradisionele vervaardigers probeer alles aan ons verkwansel wat ons nie werklik nodig het nie, terwyl die nuwe handelsmerke alles insluit – vir baie minder geld.

Mens kry die indruk dat die nuwe A3 staatmaak op sy premium markposisie en die welverdiende aantreklikheid van daai vier ringe. Daar is goedkoper motors op die mark wat méér lewer vir minder geld. Maar dié nommer is pure Audi…en as jy in die outjie sit en hom bestuur, wéét jy dit. Jy beleef daardie onverdunde Duitse panache.

Tradisionele vervaardigers: swart en wit?

Ja, jy kan baie meer kry vir baie minder geld. Maar die meeste van daardie motors is onafgerond en dikwels ongesofistikeerd. En baie het name soos die ‘80s se seunsorkeste. Dit beteken dat tradisionaliste – en diegene wat nie sweet oor prys nie – steeds sulke motors sal koop, bloot omdat dit daardie goeie, tradisionele kwaliteit en waarde omvat.

Dus, dit hang van jouself af of jy ‘n motor wil hê genaamd Kajagoogoo, ongeag wat dít nou mag beteken óf waar dit ookal vandaan kom. Die wonderlike alternatief blý ‘n goeie ou Beierse Audi, met sy wortels stewig in vier befaamde ringe. Daardie keuse is immers heeltemal joune. Maar die vreemde nuwe mededingers mag dalk die tradisionele groep noop om hulle bemarkingstrategie te herdink, alvorens die nuwelinge net té goed raak vir kopers om op tradisie te bly wed.

Foto’s & toetsdata: Giordano Lupini

PADTOETS: Audi A3 Sedan 35TFSI Black Edition Enjin: 110 kW, 250 Nm, 1.4-liter turbo petrol I4

Aandrywing: 8-spoed outomaties, voorwielaandrywing

GETOETS:

0–60 km/h: 3.89 sekondes

0–100 km/h: 8.43 sekondes

0–120 km/h: 11.64 sekondes

0–160 km/h: 20.53 sekondes

400m: 16.0 sekondes @ 142 km/h

80–120 km/h: 5.63 sekondes

120–160 km/h: 8.89 sekondes

GEADVERTEER:

Topsnelheid (VMax): 227 km/h

Brandstofverbruik gemiddeld: 5.8 l/100 km

CO₂-uitlaat: 138 g/km

Reikwydte: 850 km

Waarborg/Diensplan: 1 jaar onbeperk / 5 jaar of 100 000 km

Lysprys: R849 000